Besoekersvoorwaardes
Ons bring graag die volgende onder jou aandag!
Die persoon wat hierdie voorwaardes lees, onderneem om dit onder al die lede van sy/haar groep se aandag te bring, en aanvaar aanspreeklikheid daarvoor dat al die lede van die groep die bepalings hierin sal nakom.
Reg van toegang voorbehou
Die reg van toegang tot die oord word voorbehou. 'n Persoon wat hom na die oordeel van die oordbestuurder of enigeen van sy personeellede wangedra, moet die terrein op versoek verlaat. Toegangsgelde sal in so 'n geval verbeur word.
Vuurwerk
Die gebruik van vuurwerk is STRENG VERBODE.
Volwasse toesig
Die verantwoordelikheid van behoorlike toesig oor babas, kleuters en kinders berus by die persoon in wie se sorg sodanige minderjariges die oord binnekom.
Eie risiko
Besoekers gebruik alle oordgeriewe, in besonder die swembad, wipmatte en waterglybaan, op eie risiko. Die ATKV aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige beserings of skade wat uit voormelde gebruik kan spruit, of vir enige beserings of skade wat besoekers by die oord sou opdoen of ly nie. Besoekers neem op eie risiko deel aan die groepsaktiwiteite wat die oord reël.
Persoonlike eiendom
Besoekers bring hul eiendom op eie risiko na die terrein. Die oord is nie aanspreeklik vir enige diefstal of verlies daarvan nie.
Stiltereëls in die oord
Besoekers word versoek om die rustigheid van die omgewing te alle tye te eerbiedig en nie harde musiek te speel of musiekinstrumente hard te bespeel nie. Na 23:00 moet absolute stilte in die oord heers.
Eet, drink en rook in enige van die swembaddens is streng verbode. Geen alkoholiese drank mag in die omgewing van die swembaddens gebruik word nie. Alle eenhede en openbare ruimtes is ook tot rookvrye sones verklaar.
Toerusting in eenhede
Besoekers is verantwoordelik vir alle toerusting in die eenhede wat hulle huur en moet die oord vir enige artikels wat gedurende hul verblyf breek of wegraak, vergoed.
Aankoms- en vertrektye
Aankoms: Huisvesting en kampering - vanaf 15:00 Vertrek: Woonwaens voor 10:00; eenhede om 10:00
Padreëls
Bestuur asseblief versigtig op al die paaie in die oord en hou binne die spoedperk van 20 km/h.
Gebreke en foute
Besoekers word vriendelike versoek om enige gebreke of foute wat hulle op die terrein opmerk dadelik by die bestuur aan te meld.
Vullis
Rommelstrooiing is streng verbode. Plaas asseblief alle leë bottels, houers of ander vullis in die houers wat vir die doel aangebring is.
Sleutels
Besoekers moet by hul vertrek die sleutels van hul eenhede by die ontvangskantoor of die hekwag indien.
Nie toegelaat nie
Geen troeteldiere, motorfietse of enige petrol- of batteryaangedrewe en ongelisensieerde voertuie word in die oord toegelaat nie. Kru taalgebruik, soos vloek- en skeltaal, is streng verbode.
Vuurmaakplekke
Maak asseblief slegs op die aangewese vuurmaakplekke vuur. Vuurmaak op die grond is streng verbode.
Diskriminasie
Geen diskriminasie teen enige persoon op grond van ras, geslag of geloof sal geduld word nie.
Drankgebruik
Drankgebruik word beperk tot die wooneenhede en restaurant. Drank mag op geen ander plek in die oord gebruik word nie.
Fietse en skaatse
Fietse en skaatse word nie by die swembaddens of in die gebied om die winkel toegelaat nie.
Wilde diere
Besoekers word dringend versoek om nie enige wilde diere soos dassies te voer nie. Dit ontwrig die diere se natuurlike eetgewoontes.
Gazebo's
Om dit vir almal gerieflik en aangenaam te maak versoek ons u vriendelik om nie gazebo's om die swembaddens op te rig nie. Slegs strandsambrele sal toegelaat word sodat daar vir al ons besoekers plek op die gras om die swembaddens sal wees.
Voorwaardes en verblyf en besoek
1. Die eienaar, sy verteenwoordigers, werknemers of enigiemand wat poog om namens die eienaar op te tree aanvaar geen aanspreeklikheid nie vir:
1.1 enige verlies van of skade aan die eiendom van enige gas, inwoner of besoeker, ongeag of sodanige verlies of skade veroorsaak is deur brand of diefstal of enigiets anders weens die nalatigheid of onregmatige daad van enigeen in diens van die eienaar, die eienaar self of enigiemand wat poog om namens die eienaar op te tree;
1.2 enige persoonlike beserings van welke aard ook al wat 'n gas, inwoner of besoeker opdoen, ongeag of sodanige persoonlike beserings veroorsaak is deur die nalatigheid of onregmatige daad van enige persoon in diens van die eienaar, die eienaar self of enigiemand anders veroorsaak deur die onklaarraking van enige toerusting, eiendom of toestel van die eienaar.
1.3 enige persoon wat die register teken en deur enige ander persone/besoekers vergesel word, vrywaar en stel die eienaar skadeloos teen enige aanspreeklikheid teenoor sodanige ander persone, wat insluit gaste en mense wat die persoon vergesel in die gevalle soos dit in die voorwaardes in paragraaf 1.1 en 1.2 hier bo uiteengesit word. Daar word aanvaar dat sondanige persone bewus is van die aard van voormelde skadeloosstelling.
|